Die Clarens Parkrun begin op Saterdag, 30 Maart

In lyn met ‘n landwye en ook wêreldwye tendens om ‘n gesonde leefstyl te bevorder, gaan die Oos-Vrystaatse dorpie, Clarens, ook nou weekliks die ‘parkrun‘ aanbied. Die eerste Clarens-parkrun vind plaas op Saterdag 30 Maart om 08:00. Bruce Fordyce, Mr. Parkrun in Suid-Afrika gaan die eerste Clarens-parkrun open.

Die 5km parkdraf in Clarens gaan begin en eindig in Kerkstraat, by die Bibliophile boekwinkel, en net ‘n kort afstand vanaf die dorpsvierkant. Die roete lê hoofsaaklik in die Clarens-Natuurreservaat en op voetpaaie langs die spruite wat deur die dorpie vloei. 

Die ‘parkrun’ se organiseerders het met die CVC saamgewerk om ‘n roete te skep wat aan die ‘parkrun’ se vereistes voldoen en tegelykertyd ook skilderagtige natuurskoon bied. Nuwe bruggies is oor die spruite gebou, wat aan die deelnemers ‘n besondere ervaring gaan gee.

Die roete gaan oor die wal van die Clarens-dam, en kronkel aan die voetheuwels van die Rooiberge, wat ’n pragtige uitsig oor die Klein Caledon-vallei bied.

‘n Verdere aantrekkingskrag van die Clarens-parkrun is natuurlik die groot verskeidenheid gesellige restaurante waar deelnemers na die stap of draf iets kan gaan eet of drink. Hier is ook genoeg gastehuise om deelnemers wat van ver kom te akkomodeer vir die naweek. 

Die Clarens-parkrun gaan ‘n unieke kombinasie van gesonde oefening en pragtige natuurskoon bied. Deelname is gratis. Atlete moet wel op die parkdraf se webblad registreer, die strepieskode uitdruk, en daarmee opdaag by die wegspringplek in Kerkstraat.